SEOUL, SUID-KOREA. – Owerhede in Seoul het bevind dat vrouebykomstighede van gewilde aanlyn winkels soos Shein, Temu en AliExpress, toksiese stowwe bevat wat dikwels honderd keer bo die wettige perk is. In die mees onlangse ondersoek is 144 produkte van dié winkels getoets, en verskeie van hierdie produkte het nie aan aanvaarbare standaarde voldoen nie.
Die inspeksie het bevind dat skoene van Shein beduidende hoë vlakke van ftalaat bevat, met een paar wat 229 keer bo die wettige limiet was. Ftalate kan voortplantingsprobleme veroorsaak, insluitend onvrugbaarheid en voortydige geboorte, het ‘n amptenaar van Seoul se omgewingsgesondheidspan gesê.
In Shein se pette is formaldehied gevind wat dubbel die toegelate vlak was, en twee bottels naellak het meer as 3.6 keer die toegelate hoeveelheid dioksaan – wat moontlik ‘n karsinogeen is – en metanol 1.4 keer bo die aanvaarbare vlak – bevat.
Temu se sandale het lood in die binnevoerings gehad wat meer as 11 keer die toegelate limiet is.
Seoul se owerhede het versoek dat die betrokke produkte onttrek word en het verbruikers verseker dat gereelde veiligheidstoetse gedoen sal word en die resultate bekendgemaak sal word.





