WES-KAAP. – Drie beskuldigdes is deur die hooggeregshof tot lang tronkstraf gevonnis. Sakhumzi Mbucela ‘n Wynberg-polisiebeampte wat van diens en ongewapen was, is deur hulle vermoor. Sibongiseni Yanta, ‘n staatsgetuie in Gugulethu, het ook aan die hand van die beskuldigdes gesterf.
Volgens NVG-woordvoerder, Eric Ntabazalila, is Luzuko Yalezo (40) tot 28 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis (kumulatief 111 jaar), vir twee klagtes van moord, sameswering om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede, die rig van ‘n vuurwapen, ontvoering, twee klagtes vir die besit van onwettige ammunisie en twee vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
Mzukisi Ntetha en Athenkosi Kolanisi is onderskeidelik 25 en 20 jaar tronkstraf opgelê. Al drie is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
Die misdade het in Augustus 2021 met ‘n beweerde bestelling vir ‘n gesteelde of gekaapte bakkie begin, toe hulle deur Siphelele Botya R20 000 daarvoor aangebied is. Op 12 Augustus het hulle rondgery en ‘n bakkie opgemerk, waarna hulle Mbucela in sy bakkie in KTC, Gugulethu, oorval het. Die polisiebeampte is herhaaldelik beveel om uit die bakkie te klim, wat hy weens ‘n lamppaal by die deur nie kon doen nie. Mbucela is gesteek en het later aan sy wonde beswyk. Die bakkie is glo in opdrag van Botya by ‘n spoorlyn in Samora Machel gelaat, waarna die beskuldigdes met geld, bankkaarte, selfone, polisieboeie en sonbrille gevlug het. Yaleza is glo later deur Botya ingelig dat die polisie die bakkie ondersoek en het nog een bestel.
Toe die beskuldigdes uitvind dat Sibongiseni Yanta as staatsgetuie in Mbucela se saak sou optree, is hy op 23 November 2021 ontvoer en naby Browns Farm doodgeskiet.
Meagen September-Qatana, senior staatsadvokaat, en AO Hlatshanene van die Valke, word geprys vir hulle uitstaande werk – insluitend uitgebreide reise deur die Oos-Kaap om getuies op te spoor en bewyse te bekom wat uiteindelik die saak beklink het.




