MOSSELBAAI. – Twee atlete, onderskeidelik 29 en 58 jaar oud, het Sondag gesterf terwyl hulle aan swemafdeling van die Isuzu Ironman 70.3-kompetisie deelgeneem het.
Volgens die organiseerders het veiligheidspersoneel sowat 15 minute uit mekaar op twee afsonderlike mediese noodgevalle tydens die swemdeel van die wedren gereageer. “In die eerste voorval is ’n atleet ongeveer 400 meter van die beginpunt af uit die water gehaal, terwyl die tweede atleet omstreeks 1 000 meter ver uitgehaal is,” het die organiseerders gesê. Albei atlete is na die aangewese punt gebring waar dringende mediese sorg toegepas is, voordat hulle per ambulans na ‘n hospitaal vervoer is. Albei deelnemers is later oorlede.
Dirk Kotzé, die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, het sy innige meegevoel aan die families en geliefdes van die oorledenes betuig. Ironman Suid-Afrika het ook hul dank uitgespreek teenoor die veiligheid- en noodreaksiepersoneel wat vinnig opgetree het om hulp te verleen.
In die vroue-afdeling het Kirsten Schut in die ouderdomsgroep 35-39 die wenplek behaal, gevolg deur Vicky van der Merwe, ook in die ouderdomsgroep 35-39, terwyl Gemma Frances in die ouderdomsgroep 18-24 derde geëindig het. Die manswenners was Dale Taylor in die ouderdomsgroep 35-39, Adriaan Myburgh in die ouderdomsgroep 25-29 tweede, en Manfred Lambrechts in die ouderdomsgroep 30-34 derde.
Bronne: Mosselbaai-munisipaliteit, burgemeester Dirk Kotzé en Isuzu Ironman South Africa





