GAUTENG. – Twee Nylkrokodille is Maandag by ‘n huis in Springs verwyder, nadat owerhede die eiendom deursoek en ernstige wetsoortredings gevind het. Die krokodille het onderskeidelik 1,48 m en 1,7 m gemeet.
Volgens polisiewoordvoerder, AO Grant Giblin, is inligting ontvang dat twee skilpaaie en twee krokodille sonder die vereiste permite op die eiendom aangehou word. ‘n Deursoekingslasbrief is by die Springs-landdroshof bekom, waarna ‘n operasie geloods is. Toe die span teen ongeveer 10:00 by die eiendom aankom, was die eienaar nie teenwoordig nie. ‘n Persoon wat na bewering as bestuurder van sy maatskappy optree, het die lede op die eiendom begelei. Tydens die deursoeking is ‘n swart staalhok van ongeveer 5,6 m x 1,8 m ontdek, met ‘n klein blou swembad daarin en twee Nylkrokodille wat glo al vir meer as twee jaar daar aangehou word. Geen skilpaaie is egter op die eiendom gevind nie.
‘n Kriminele saak vir oortreding van die nasionale omgewingsbestuurswet – biodiversiteitswet vir die aanhou van bedreigde of beskermde spesies sonder ‘n permit – is by die Springs-polisiekantgoor geopen. Tshwane K9, die Gautengse departement van omgewing, die Vereeniging-eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital en die Springs-DBV was deel van die operasie. Die krokodille is vir mediese behandeling en huisvesting aan die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital oorhandig.
Owerhede herinner alle inwoners dat enige persoon wat van plan is om eksotiese troeteldiere of wildlewe aan te hou, hul eers deeglik moet vergewis van die wette wat op spesifieke spesies van toepassing is. Die ondersoek duur voort.





