GAUTENG. – Twee van die agt vroue van wie die liggame in die Kempton Park-gebied gevind is, is tot dusver positief geïdentifiseer. Hulle is die 38-jarige Elizabeth “Tsontso” Moselakgomo en Itumeleng Kekana.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê Moselakgomo is op 10 September as vermis aangemeld, nadat sy gaan draf het en nie na haar huis en haar 8-jarige dogter teruggekeer het nie. Moselakgomo se dogter het familielede gekontak toe haar ma later die aand nie terugkeer nie, waarna haar verdwyning by die polisie aangemeld is. Die polisie het na Moselakgomo gesoek en navrae by hospitale en lykshuise gedoen. Haar liggaam is op 14 September positief by die Germistonse lykshuis deur haar familie geïdentifiseer.
Kekana is op 17 Julie as vermis aangemeld. Haar liggaam is op 3 Augustus nakend langs Great North Road in Pomona, Kempton Park, gevind. Sy is sedertdien positief geïdentifiseer.
Die polisie ondersoek die sterftes. Een verdagte is reeds in hegtenis geneem in verband met die ontdekking van die eerste liggaam in Julie en is steeds in aanhouding. Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Puleng Dimpane, het ’n multidissiplinêre span opdrag gegee om die ondersoeke te verskerp en moontlike verbande tussen die sake te ondersoek.