GAUTENG. – Twee buitelandse burgers is in hegtenis geneem nadat drie gewapende verdagtes glo op 17 September kort voor 23:00 ’n inwoner op ’n kleinhoewe te Spitskop, Bronkhorstspruit in ‘n huis oorval het.
Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die verdagtes het die slagoffer met ’n vuurwapen gedreig en onder meer ’n televisie, battery en kontant buitgemaak. Die slagoffer het die eienaar in kennis gestel, waarna ander gemeenskapslede gereageer en twee verdagtes aangekeer het. Die twee het Maandag in die hof verskyn en die saak is tot 28 September uitgestel. Die eienaar het Saterdag na die gebied teruggekeer om na sy verlore bril te soek en het daar ’n pistool en flitslig gevind wat vermoedelik aan die verdagtes behoort.
Vingerafdrukke is van die twee verdagtes geneem en die polisie ondersoek of hulle moontlik met ander sake verbind kan word.