Valke slaan toe op onwettige medisynehandel

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

OOS-KAAP. – ’n 41-jarige man van Bangladesj is verlede Donderdag in hegtenis geneem nadat die Valke op ’n beweerde onwettige medisynebedryf in KuGompo toegeslaan het.

AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê die inhegtenisneming spruit uit ’n deeglike ondersoek deur die Saneb, wat deel vorm van die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad. Volgens hom het ’n intelligensie-gedrewe operasie gelei tot ’n klopjag by ’n mini-supermark in Dorchester Heights, waar die verdagte glo sonder wettige toestemming en lisensies medikasie aan kliënte verkoop het.

Einde Maart het beamptes ’n beheerde aankoop gedoen van tablette wat later ontleed is. Daar is bevestig dat die pille geskeduleerde medisyne is wat slegs deur bevoegde mediese personeel voorsien mag word. Die polisie het daarna verdere ondersoeke en aankope gedoen om die inligting te staaf.

Tydens ’n opvolgoperasie op 21 Mei is verskeie middels gekonfiskeer, insluitend Alprazolam-, Adco-Dol- en Stilpane-tablette, asook ander onbekende pille. Die verdagte is aangekla van die onwettige besit en verkoop van medisyne ingevolge toepaslike wetgewing en het dienooreenkomstig in die hof verskyn.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief