Die Demokratiese Alliansie (DA) vra dat Airports Company South Africa (ACSA) voor die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Vervoer verskyn om rekenskap te gee oor veiligheid by Kaapstad-lughawe.
Die oproep volg nadat ’n vrou vroeër vandeesweek glo in ’n parkeergarage by die lughawe gekaap is.
DA wil besonderhede oor veiligheid by Kaapstad-lughawe hê
Volgens dr. Chris Hunsinger, die DA se woordvoerder oor vervoer, behoort ACSA besonderhede te verskaf oor bestaande veiligheidsmaatreëls in sy parkeergeriewe, waaronder toegangsbeheer, CCTV-dekking, sekuriteitspatrollies en die aantal voertuigverwante misdade wat die afgelope paar jaar by die lughawe aangemeld is.
Die DA sê die voorval wek kommer oor voorkomende veiligheidsmaatreëls by een van Suid-Afrika se besigste lughawens.
Hunsinger sê Suid-Afrikaners en internasionale besoekers behoort lughawens te kan gebruik sonder om bang te wees dat hulle slagoffers van gewelddadige misdaad kan word.
Die DA wil hê ACSA moet aandui of enige tekortkominge in die lughawe se parkeergeriewe geïdentifiseer is en watter verdere maatreëls ingestel sal word om lughawegebruikers te beskerm.
Vier verdagtes in hegtenis
Vier verdagtes is volgens die DA ná die voorval deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in hegtenis geneem. Nuusflits het vroeër berig oor die kaping naby Kaapstad-lughawe en die arrestasie van die verdagtes.
Die verdagtes, wat tussen 16 en 27 jaar oud is, is in Bonteheuwel gevang en moet in die Goodwood-landdroshof verskyn op aanklagte wat met die kaping en die besit van ’n gesteelde voertuig verband hou.
ACSA het intussen in ’n openbare verklaring bevestig dat dit bewus is van die voorval en gesê sy sekuriteitspanne het onmiddellik gereageer en saam met die SAPD gewerk, wat die verdagtes gearresteer het. Die maatskappy sê die veiligheid van reisigers en die publiek bly ’n prioriteit.
Vorige voorvalle in die omgewing
Die party het ook verwys na ’n vorige voorval op die N2 naby die lughawe waar ’n vermeende kaper vroeër vanjaar in hegtenis geneem is nadat ’n motoris glo met ’n vuurwapen gedreig is.
Die lughawe se parkeeromgewing was reeds voorheen onder die soeklig. Motoriste is in die verlede gewaarsku oor ongemagtigde lughaweparkeerdienste.
Nuusflits vra kommentaar
Nuusflits het ACSA en die SAPD in die Wes-Kaap vir kommentaar genader.
ACSA is onder meer gevra om te bevestig presies waar die voorval plaasgevind het, watter veiligheidsmaatreëls tans in die parkeerareas geld, of die voorval op CCTV vasgelê is en hoeveel soortgelyke voertuigverwante misdade die afgelope drie jaar op ACSA-beheerde terrein aangemeld is.
Die SAPD is gevra om die omstandighede van die voorval, die arrestasie van die vier verdagtes en die ondersoek te bevestig.
Volledige kommentaar op hierdie spesifieke vrae was teen publikasietyd nog afgewag.
Foto: Canva