Brekende Nuus
Misdaad

Kaping naby Kaapstad-lughawe – verdagtes in hegtenis

Foto: Kaapstad Internasionale Lughawe

WES-KAAP. – ‘n Kaping het Maandag in die omgewing van Kaapstad Internasionale Lughawe plaasgevind. Die SAPD het vier mans tussen 16 en 27 jaar in hegtenis geneem.

Kaapstad Internasionale Lughawe het bevestig dat sy veiligheidspanne onmiddellik op die voorval gereageer en nou saam met die polisiediens gewerk het. Die lughawe het reisigers en die publiek verseker dat die veiligheid van almal by die lughawe ’n prioriteit bly. Die polisie en veiligheidspanne is bedank vir hul vinnige optrede en samewerking om die situasie onder beheer te bring.

Konst. Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die kaping het ná 17:00 plaasgevind. Blitspatrolliebeamptes wat vinnig gereageer het, het ‘n wit Volkswagen Polo in Bonteheuwel onderskep. Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, staan tereg op aanklagte van kaping en die besit van ’n gesteelde voertuig. Hulle sal na verwagting in die Goodwood-landdroshof verskyn.