KWAZULU-NATAL. – ’n Vermeende inbreker is Woensdag in Boughton aangekeer nadat Mi7 Reaction Officers hom verbind het met ’n vroeëre voorval waarin verskeie verdagtes op ’n kliënt se eiendom opgemerk is. Hy moes vrygelaat word omdat ‘n klaer nie ‘n saak wou oopmaak nie.
Volgens Mi7 het beheerkameroperateurs reaksiebeamptes ontbied nadat ‘n alarm by ‘n eiendom geaktiveer is . Met hul aankoms het beamptes verskeie verdagtes op die perseel gewaar en hulle agternagesit, maar die verdagtes kon daarin slaag om te ontvlug.
Later die aand is inligting ontvang oor persone wat in die bosse naby die eiendom gesien is en wat ooreenstem met die beskrywing van die verdagtes wat vroeër op die perseel was. Reaksiebeamptes is na die gebied gestuur en het dieselfde verdagtes gewaar waar hulle probeer het om toegang tot ’n ander kliënt se eiendom te verkry. Die verdagtes het weer na die omliggende bosse gevlug, waar hulle gesoek is.
Een verdagte is aangekeer en is volgens Mi7 bevestig as ‘n persoon wat by die vroeëre voorval betrokke was. Die polisie is ontbied en het kort daarna opgedaag. Die kliënt het egter besluit om nie ’n saak te open nie, waarna die verdagte met ’n waarskuwing vrygelaat is.