GAUTENG. – ‘n Man is Donderdagaad op aanklagte van aanranding ingevolge die gesinsgeweldwet en poging tot moord in hegtenis geneem. Polisiebeamptes is kort voor 23:00 na ‘n klagte van gesinsgeweld in Wonderboom-Suid uitgeroep. Tydens die voorval is die verdagte deur polisiebeamptes gewond.
Volgens kapt. Johan van Dyk, distrikspolisiewoordvoerder, het die beamptes ‘n beseerde vrou by ‘n woning op die hoek van De Beersstraat en 19de Laan aangetref. Sy het verduidelik dat haar kêrel haar geslaan en daarna die toneel verlaat het. Sy het ook gewaarsku dat hy gewapen was en sy geestestoestand kommerwekkend is, met die moontlikheid van selfdood.
Polisiebeamptes het die man agter ‘n bos in die tuin opgespoor waar hy geskuil het. Hy is beveel om sy wapens neer te lê en homself oor te gee, maar in plaas daarvan het hy met ‘n vuurwapen in die een hand en ‘n mes in die ander op die polisiebeamptes afgestap. Die polisiebeamptes het uit selfverdediging na hom geskiet.
Nooddienste is ontbied en die man is gestabiliseer, waarna hy na ‘n hospitaal vervoer is. Daar is op die vuurwapen beslag gelê wat aan forensiese toetsing onderwerp sal word.
Pretoria Volunteer Emergency Services (PVES) en Best Care EMS is na die geval van gesinsgeweld ontbied, wat tot ‘n aktiewe skiettoneel sou eskaleer. In die voertuig wat ontplooi is, was ‘n noodgeneeskundige praktisyn, ‘n gevorderde traumategnikus en ‘n mediese dokter. Met aankoms het die span ‘n vrou met ernstige gesig- en kopbeserings, asook harsingskudding en ‘n vermoedelike gebreekte gesigsbeen behandel. Ná deeglike ondersoek deur die dokter het die vrou verdere behandeling geweier.
Kort daarna is skote uit die huis gehoor en die hele nooddiensspan moes dadelik skuiling neem. PVES sê dit is juis hul mediese taktiese opleiding wat in daardie oomblik die verskil gemaak het. Nadat die toneel veilig verklaar is, is die span ingelig dat ‘n man in die huis skietwonde aan die buik opgedoen het. Gevorderde lewensreddende behandeling, onder meer bloedingbeheer, is toegepas. Noodmedikasie is toegedien terwyl die beseerde deurlopend gemonitor is en ‘n ultraklankondersoek gedoen is. Hy is tydens die traumasorg warm gehou om sy kans op oorlewing te verbeter.
PVES bevestig Gauteng EMS het die pasiënt uiteindelik vir verdere intensiewe sorg vervoer. Die diens sê voorts almal het onder moeilike omstandighede goed op die toneel saamgewerk.







