WES-KAAP. – Twee verdagtes is Saterdagoggend in hegtenis geneem nadat ‘n gesoekte voertuig waarin hulle was, opgemerk is waar dit uit die Groote Schuur-hospitaal se parkeerarea wou ry. In die kattebak van die motor is verskeie wieldoppe gevind, vermoedelik gesteel.
Alderman JP Smith sê in ‘n sosialemediaplasing die verdagtes is in hegtenis geneem vir die saak waarvoor hulle glo gesoek is, sowel as vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Diegene wie se wieldoppe gedurende Vrydagnag en Saterdagoggend gesteel is, word aangeraai om ‘n saak by hulle naaste polisiekantoor oop te maak. Die saaknommer kan dan na die Woodstock-polisiekantoor geneem word om die wieldoppe terug te kry.
Smith sê die vaskeer van die verdagtes en terugkry van die wieldoppe is wetstoepassingsowerhede se aandeel in die verspreiding van liefde op Valentynsdag.





