OOS-KAAP – Die Valke het vyf verdagtes van ‘n beweerde sindikaat, tussen 32 en 60 jaar oud, wat glo vervalste jenewer (gin) vervaardig en versprei het, tydens ’n intelligensiegedrewe operasie in hegtenis geneem. Die beskuldigdes sluit ‘n polisiesersant en haar kêrel in.
Volgens Valke-woordvoerder, lt.kol. Avele Fumba, is die optrede Woensdag saam met plaaslike misdaadintelligensie, SAPD-lede en handelsmerkverteenwoordigers van Gordon’s en Old Buck Gin uitgevoer. Die groep het glo vervalste jenewer in Butterworth, Ngqamakwe en Msobomvu versprei. Twee mans is met vervaardigingsmateriaal by ’n perseel in Butterworth betrap. In Ngqamakwe is ’n polisiesersant en haar kêrel gevang met houers en bottels. ’n Man (60) is in Msobomvu vasgetrek met bokse van bekende handelsmerke en chemiese stowwe. Alles is vir forensiese ontleding gestuur.
Die vyf staan op aanklagte kragtens die wet op vervalste goedere tereg en sal op 22 Februarie in die Butterworth-landdroshof verskyn.





