Verdagtes vas ná ontvoering en moord op 7 mense

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

KWAZULU-NATAL. – Sewe mense van Newtown, in Newark, is Dinsdagaand ontvoer en in Melmoth vermoor, waarna verskeie polisie-eenhede en E2-vennote saamgewerk het om drie mans in hegtenis te neem. Die sewe slagoffers was tussen 20 en 83 jaar oud.

Kol. Robert Nethiunda, polisiewoordvoerder, sê ondersoeke het begin nadat ’n huishulp Woensdagoggend by die slagoffers se huis opgedaag en ontdek het dat daar by die woning ingebreek is. Die sewe inwoners en ‘n voertuig was vermis. Verskeie polisie-eenhede is onmiddellik ontplooi. Twee verdagtes is Woensdagmiddag in die Hlomendlini-gebied in hegtenis geneem, terwyl ’n derde later in Dendetu, Sundumbili vasgetrek is. ‘n Vuurwapen is in die derde verdagte se besit gevind en ‘n totaal van 11 selfone by die verdagtes gekry.

Tydens verdere ondersoek is bevestig dat een van die verdagtes by die slagoffers gewerk het en glo saam met medebeskuldigdes die huis beroof het. Die sewe slagoffers is glo met toue vasgebind, waartydens ‘n 20-jarige slagoffer verkrag en almal daarna 200 km weg na Melmoth geneem is, waar sy weer verkrag is. Daar is ook onthul dat drie slagoffers glo forseer is om bankbesonderhede bekend te maak, waarna geld onderskeidelik Dinsdagaand en Woensdagoggend uit die rekeninge oorgeplaas is. Drie slagoffers is daarna doodgeskiet, terwyl die ander vier brutaal doodgesteek is. Die verdagtes het die polisie Woensdag na Melmoth gelei en die sewe slagoffers se liggame uitgewys.

Drie verdagtes, 21, 26 en 28 jaar oud, sal binnekort in die KwaDukuza-landdroshof verskyn. Die polisie sê die ondersoek duur voort en verdere aanklagte kan volg.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi het die spoedige inhegtenisneming van die verdagtes geprys. “Sekere misdade is moeilik vir die polisie om te voorkom, maar wanneer ’n misdaad plaasvind, moet die polisie se reaksievermoë opgewasse wees vir die taak en die saak oplos. Dit is kommerwekkend dat een van die verdagtes by die slagoffers werksaam was. Ons doen ’n beroep op werkgewers om agtergrondondersoeke te doen op alle mense wat hulle in diens neem en ook op hul verdagte gedrag te let. Sommige sake, veral op plase en in afgeleë gebiede, word gepleeg deur mense wat aan die slagoffers bekend en na aan hulle is. Die polisie sal geen steen onaangeroer laat in die soeke na die maksimum tronkstraf vir die verdagtes nie. Ons sal ook elke bewysstuk ontleed om vas te stel of die verdagte met ander sake in en rondom die provinsie verbind kan word. “

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief