GAUTENG. – Die verhoor van verskeie beskuldigdes, onder wie Cat Matlala, wat na bewering die brein agter verskeie kontrakmisdade is, begin vandag in die Johannesburg-hooggeregshof. Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord in afsonderlike aanvalle.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die drie afsonderlike aanvalle was glo op die sakeman Joe Sibanyoni en vyf ander mense, die mediapersoonlikheid Tebogo Thobejane en drie ander, asook die musikant DJ Vettys en twee ander. Lede van die taakspan vir politieke moorde (PKTT) en Gauteng se teenintelligensie-operasies het ná maande se ondersoekwerk, wat in Desember 2024 begin is, die beskuldigdes aan al drie sake verbind. Volgens Mathe het ondersoekers onder meer twee vuurwapens teruggevind wat vermoedelik met die aanvalle op Sibanyoni en DJ Vettys verbind kan word. Forensiese en ballistiese bewyse sal ook deel van die staat se saak vorm.
Lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, het die ondersoekspan geloof vir hul volgehoue werk wat daartoe gelei het dat die sake die verhoorfase bereik het. Sy sê die verhoor stuur ‘n sterk boodskap dat die polisie sal voortgaan om georganiseerde geweldsmisdaad en kontrakmisdaad te beveg en diegene wat daarvoor verantwoordelik is, voor die hof te bring. Dimpane het bygevoeg dat die slagoffers en hul families geregtigheid verdien en haar vertroue uitgespreek dat die hofproses tot aanspreeklikheid en gepaste vonnisse sal lei indien die beskuldigdes skuldig bevind word.





