NOORDWES. – Die Hooggeregshof in Mahikeng het ‘n eksepsie verwerp wat ‘n intensiewesorgeenheid (ISE)-dokter teen ‘n eis van nalatigheid ingedien het. Dit kom nadat ‘n jong vrou gesterf het terwyl sy onder sy sorg in die intensiewesorgeenheid was. ‘n Eksepsie is ‘n hofprosedure waarin ‘n party beswaar maak teen ‘n dagvaarding of ‘n eis.
Waarnemende Regter T. Tsautse het op 14 Mei beslis dat die eisers, die pa en ‘n familielid van die oorledene, voldoende gronde uiteengesit het vir die saak om verhoor te word. Die oorledene het op 16 April 2021 ‘n keisersnee by Life Peglerae-hospitaal ondergaan, waarna sy ‘n dermbesering opgedoen het wat ‘n tweede operasie genoodsaak het. Sy is daarna onder die sorg van Dr. Shuping Mokgosi in die ISE opgeneem, waar haar toestand verder versleg het tot sy gesterf het. Die eisers beweer dat Mokgosi nagelaat het om die pasiënt tydig te ondersoek toe haar toestand versleg het, dat hy nie bereikbaar was toe verpleegpersoneel hom dringend probeer kontak het nie en dat hy nie ‘n behoorlike oordrag met ‘n plaasvervanger gereël het nie. Ander dokters het na bewering instruksies per WhatsApp gegee sonder om die pasiënt te ondersoek, terwyl haar bloeddruk kommerwekkend gedaal het.
Mokgosi het aangevoer dat hy nie die keisersnee of die opvolgende operasie uitgevoer het nie en dus nie verantwoordelik gehou kan word vir haar dood nie. Die hof het egter beslis dat hierdie verweer in die verhoor bewys moet word en dat dit nie ‘n rede is om die saak in hierdie stadium van die hand te wys nie. Mokgosi moet binne 15 dae sy pleit indien. Die koste van die eksepsie sal deel wees van die uiteindelike hofbevel.
Druk hier om meer oor die hofsaak te lees.





