OOS-KAAP. – Vier polisbeamptes van die openbare orde polisiëring (OOP) in Gqeberha wat gisteraand as vermis aangemeld is, is vanoggend omstreeks 08:30 veilig en ongedeerd opgespoor.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê AO Martin Fourie en konstabels Lyle Fondling, Azola Mgoduka en Imraan Moosa was ontplooi om met stabiliteitsmaatreëls vir die TransBaviaans-fietsren te help. Met hul terugkeer het hul voertuig langs die Baviaanskloof-roete vasgeval. Weens ’n gebrek aan selfoonsein kon hulle nie om hulp bel nie. Hulle het na die naaste reservaat gestap, waar hulle vir die nag skuiling gevind het. Al vier polisielede is ongedeerd en word tans versorg.
Die polisie het sy dank uitgespreek teenoor almal wat met die soektog gehelp het, insluitend polisielede van omliggende stasies, Gift of the Givers, plaaslike boere, private veiligheidsmaatskappye en die weermag.





