GAUTENG. – Verskeie chalets by die Pride of Africa-natuurreservaat naby Hammanskraal is Donderdagaand deur ‘n brand verwoes nadat ‘n veldbrand vinnig na die geboue versprei het. Die oorsaak van die brand word nog ondersoek.
Volgens Nana Radebe-Kgiba, woordvoerder vir die Stad Tshwane se nooddienste, is aanvanklik berigte van ‘n veldbrand ontvang, maar met brandbestryders se aankoms op die toneel het hulle vasgestel dat die vlamme reeds verskeie chalets verwoes het.
Bykomende brandbestrydingseenhede van verskeie brandweerstasies is ontbied om die brand te bestry. Brandbestryders het langer as drie uur gewerk om die brand onder beheer te bring, verdere verspreiding na omliggende plantegroei en strukture te voorkom en seker te maak dat daar geen gevaar van herontbranding is nie. Spanne het daarna op die toneel gebly om smeulende brandpunte te blus.
Die Stad Tshwane het die vinnige optrede en toewyding van die brandbestryders geloof en doen ‘n beroep op eienaars van eiendomme, veral in landelike en natuurreservaatgebiede, om voldoende brandpaaie in stand te hou en enige tekens van ‘n brand onmiddellik aan te meld.





