WES-KAAP. – Verskeie nasionale parke langs die Kaapse kus en binneland het die afgelope dae ernstige skade gely weens gure weerstoestande. Vloede, infrastruktuurskade, kragonderbrekings en tydelike sluitings het ‘n aantal gebiede geraak wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) bestuur word — onder andere Agulhas, Bontebok, Tafelberg, die Tankwa Karoo en Weskus Nasionale Parke. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat koue, nat en winderige toestande die komende dae oor dele van die provinsie sal voortduur.
By die Tafelberg Nasionale Park is die meeste besoeker-areas steeds oop, insluitend Seinkoppie, Leeuekop, Hertpark, die Nuweland-roetes en Tokai-piekniek-area. By Silwermyn is Hek 1 egter slegs gedeeltelik oop nadat sterk winde skade aan ablusiegeriewe en watertenks aangerig het. Die Olifantsoog-roete vanuit die Silwermyn-dam bly gesluit weens ontwortelde bome. Die Tokai-arboretum bly ook gesluit weens takke wat geval en toegangsroetes versper het.
Die Bontebok Nasionale Park is tydelik gesluit nadat die Breërivier oorstroom het. Chalets by Lang Elsie’s Kraal-ruskamp staan onder water en verskeie wandelpaaie is geraak.
Die Weskus Nasionale Park bly oop ondanks skade aan die Abrahamskraal- en Van Breda-verblyfgeriewe, wat op 11 Mei deur windsnelhede van tot 90 km/h beskadig is.
By die Agulhas Nasionale Park en die omliggende Kaap Agulhas-munisipale gebied duur kragonderbrekings steeds voort, wat kommunikasiestelsels en daaglikse bedrywighede belemmer. Styggende watervlakke is ook langs die R319 tussen Bredasdorp en Struisbaai aangemeld.
In die Tankwa Karoo Nasionale Park bly alle toegangspaaie oop, maar besoekers moet rekening hou met uiters nat en modderige toestande regdeur die park.
Volgens JP Louw, Hoof van Kommunikasie en woordvoerder van SANParke, was die kantoor op Thesen-eiland op Knysna Dinsdag voorlopig gesluit en op Harkerville was daar ook ‘n kragonderbreking.
Die Otterroete en oornaghutte in die Tsitsikamma-afdeling is nagegaan en vertoon geen ernstige skade nie. Hierdie roete heropen Vrydag, maar besoekers moet waaksaam wees en ontsnappingsroetes gebruik as riviere te hoog styg. Die hangbrug is oop en word tans skoongemaak, maar die Watervalslaan en verskeie ander paadjies is nog gesluit. Die Nature’s Valley-kamp is tydelik gesluit weens krag- en netwerkkwessies en geaffekteerde besoekers is na Stormsriviermond-ruskamp verskuif. Plaatbos, Goesa, die Stormsrivier Ou Pas en Akkerlandpad is egter oop. Die Wildernis-afdeling is tans nie telefonies of per e-pos bereikbaar nie. Aktiwiteite daar is opgeskort, maar akkommodasie is steeds beskikbaar.
SANParke doen ‘n beroep op alle besoekers en stappers om versigtig te wees, oorstroomde en onveilige gebiede te vermy, tydelike sluitings te eerbiedig en weersvoorspellings noukeurig te monitor voordat hulle parke besoek of staptogte onderneem.





