Brekende Nuus
Nuus

3 kinders en bestuurder sterf toe skoolvoertuig en vragmotor bots

Foto: SA long-distance truckers

VRYSTAAT. – Vier mense, onder wie drie kinders tussen ses en nege jaar oud, is Donderdagmiddag dood toe ’n Volkswagen Caravelle wat leerlinge vervoer het en ’n Mercedes-Benz-vragmotor kop-aan-kop op die R59 tussen Sasolburg en Vaalpark gebots het. Die JCS Indepentent School se direkteur (60) wat die bussie bestuur het, een seun en twee meisies is op die toneel dood verklaar.

AO Josephine Rani, polisiewoordvoerder, het die botsing omstreeks 15:15 plaasgevind. Die Sasolburg-polisiekantoor ondersoek ’n saak van strafbare manslag. 

Die skoolvoertuig was van Vaalpark in die rigting van Sasolburg onderweg, terwyl die vragmotor in die rigting van Vereeniging gery het. Die vragmotorbestuurder het die botsing oorleef. Volgens die polisie is een seun per lugambulans na ’n hospitaal in Alberton vervoer, terwyl drie ander kinders met ernstige beserings na plaaslike hospitale geneem is.

JCS Independent School het vandag (Vrydag) in ’n verklaring bevestig dat drie van sy leerlinge en die skooldirekteur, wat die voertuig bestuur het, in die ongeluk dood is. Die skool sê die families van die oorledenes is in kennis gestel en vra dat hul privaatheid gerespekteer word. Die name van die kinders sal nie bekend gemaak word voordat die families toestemming gegee het nie. 

Die skool sê beseerde leerlinge ontvang mediese behandeling en dat berading beskikbaar gestel sal word wanneer leerlinge na die skool terugkeer. Alle akademiese en buitemuurse aktiwiteite by JCS Independent School is intussen opgeskort terwyl die skoolgemeenskap oor die verlies rou. Die oorsaak en omstandighede van die ongeluk word ondersoek.