WES-KAAP. – ’n Potensiële selfdoodvoorval is vroeg Saterdagoggend in Brackenfell afgeweer, danksy die vinnige optrede deur lede van die publiek en veiligheidsbeamptes.
Volgens Titanium Securitas se misdaadvoorkomingseenheid is hulle omstreeks 02:30 na die Okavango-gebied in Brackenfell ontbied, nadat berig is dat ’n man in sy 40’s homself moontlik om die lewe wou bring. Lede van die publiek het die man intussen kalm gehou en met hom gepraat totdat hulp opgedaag het. Die veiligheidsbeamptes het toe verder met hom gesels, hom gerusgestel en ondersteuning gebied.
Ná sowat 30 minute het die man bedaar en ingestem om huis toe te gaan, met die voorneme om verdere hulp en ondersteuning te kry. Die veiligheidsmaatskappy het die publiek geloof vir hul vinnige ingryping, wat volgens hulle ’n groot rol gespeel het om die situasie veilig te laat afloop.





