CHNIA. – Owerhede in China het Saterdag bevestig dat die vlieënier van ‘n klein vliegtuig Vrydag dood is ná ‘n botsing met die Beijing CITIC-toring (ook bekend as China Zun), die hoogste gebou in Beijing. Die enkelmotor-Sunward SA 60L Aurora-sportvliegtuig (registrasie B-12PP) wat van Beijing Shifosi-lughawe opgestyg het, het volgens berigte van sy beplande vlugroete afgewyk voordat dit teen die 65ste vloervlak van die 528 meter hoë gebou met 108 verdiepings vasgevlieg het.
Altesaam 13 mense is beseer, van wie nie een in die vliegtuig nie. Luidens ‘n verklaring van die Chaoyang-distriksregering was die vlieënier alleen in die tweesitplek-vliegtuig toe dit teen die gebou vasgevlieg het. Die botsing het kort voor 18:00 naby die Oos-Derde Ringpad in Beijing se sentrale sakedistrik plaasgevind.
Luidens berigte het die vliegtuig ‘n gat aan die gebou veroorsaak en twee groot glaspanele het uitgeval. Brokstukke het op die straat onder neergestort. Die owerhede het tot dusver nie die vlieënier se identiteit of ‘n moontlike oorsaak van die ongeluk bekend gemaak nie. Verskeie internasionale media-organisasies het ook gemeld dat foto’s en inligting oor die voorval van die Chinese internet verwyder word, wat verdere onsekerheid oor die omstandighede skep.
Die ongeluk is ongewoon vir Beijing, waar die lugruim streng beheer word. Die voorval volg op ‘n verbod wat China in April aangekondig het op die verkoop van hommeltuie in Beijing. Gebruikers moet nou toestemming aanvra vir alle vlugte in die hoofstad. Volgens die South China Morning Post is die gebou nie eens by die naam genoem nie, daar is slegs na ‘n wolkekrabber naby die Oos-Derde Ringpad verwys in ‘n verklaring ná ure van stilswye.
Bronne: NBC News, CNN en ABC News, South China Morning Post





