NOORD-KAAP. – ‘n 27-jarige man is in hegtenis geneem nadat die polisie ‘n 2025 Toyota Land Cruiser Prado ter waarde van sowat R1,5 miljoen, wat 12 uur tevore in Woodstock, Kaapstad, as gesteel aangemeld is, in Upington teruggevind het.
Lt.kol. Thabo Litabe, polisiewoordvoerder, sê lede van die Upington K9-eenheid en grenspolisiëring het Donderdag omstreeks 07:30 inligting van ‘n voertuigopsporingsmaatskappy ontvang wat die polisie na die voertuig se ligging naby Upington se sentrale sakekern gelei het. Die voertuig is onderskep en die bestuurder is op die toneel in hegtenis geneem.
Die verdagte sal na verwagting binnekort op ‘n aanklag van die besit van ‘n vermoedelik gesteelde motorvoertuig in die Upington-landdroshof verskyn.





