Demi-Leigh Tebow (gebore Nel-Peters), die voormalige Mej. Heelal 2017 en Mej. Suid-Afrika 2017, het op haar amptelike sosialemediablaaie aangekondig dat Bennie Peters (62), haar pa, verlede Donderdag oorlede is. Saam met die aankondiging het Demi-Leigh ‘n hartroerende video van spesiale oomblikke met haar pa gedeel.
In haar boodskap sê sy dat haar pa “na Jesus toe is” en dat sy met ’n “swaar maar dankbare hart” die nuus deel. “Liewe Pappa, ’n dag waarna elke gelowige uitsien, beleef Pappa vandag – volmaak, aan die voete van Jesus,” het sy geskryf.
Sy het verduidelik dat haar pa twee jaar gelede met pankreaskanker gediagnoseer is. “Die laaste twee jaar was ongelooflik moeilik, maar deur dit alles het hy nooit sy humorsin, sagtheid, deernis of sy diepe liefde vir Jesus en ons familie verloor nie,” het sy gesê. Tebow het ook die dokters en mediese personeel bedank wat haar pa versorg het en gesê dat baie van hulle soos vriende geword het. Sy het haar pa geloof vir sy liefde, grappe, planmaakvermoë en die herinneringe wat hy aan haar nagelaat het. “Pappa, daar sal nooit genoeg woorde wees om my dankbaarheid te beskryf nie. Jou beste geskenke was nooit dinge nie – dit was herinneringe,” het sy bygevoeg.
Sy het haar boodskap afgesluit met die woorde: “Ek is so oneindig lief vir Pappa, en ek sal nooit genoeg kan sê dankie vir die liefdevolle, beskermende en lojale pappa wat ek die voorreg gehad het om myne te noem nie. Tot ons weer sien.”






