KWAZULU-NATAL. – Die spesiale tribunaal het Minenhle Makhanya, voormalige argitek en hoofagent vir die veiligheidsopgraderings by oudpresident Jacob Zuma se Nkandla-woning, gelas om R147 269 444,06 aan die nasionale tesourie te betaal. Makhanya is ook gelas om die regskoste te betaal.
Luidens ‘n verklaring van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) is die uitspraak Woensdag 26 Augustus gelewer nadat bevindings oor onwettige optrede en finansiële verliese tydens die projek ondersoek is. Die projek se aanvanklike koste van R27,9 miljoen het uiteindelik tot R216 miljoen gestyg. Die tribunaal het bevind dat Makhanya onder meer werk en dienste goedgekeur het wat nie deur die veiligheidsvereistes geregverdig is nie en dat sy aanstelling nie deur ’n mededingende tenderproses voorafgegaan is nie.
Die bedrag wat hy moet terugbetaal, sal met R7,8 miljoen verminder word nadat Zuma dié bedrag reeds as ’n bydrae vir nie-veiligheidsverwante opgraderings terugbetaal het. Volgens die SOE sal enige bewyse van moontlike strafregtelike optrede na die nasionale vervolgingsgesag verwys word.
Druk hier om meer te lees.