LIMPOPO. – Sebasa Mogale (52) and Dorah Mogale (44) het Vrydag vlugtig vir beweerde bitcoin-bedrog in die Polokwane-landdroshof (Pietersburg) verskyn.
Kol. Malesela Ledwaba sê die man en vrou is elk op R10 000 borg vrygelaat. Die saak is vir verdere ondersoek tot 20 Mei uitgestel.
Ledwaba sê Sebasa Mogala het glo gedurende 2020 by ‘n SABC-radiostasie gewerk. Tydens hierdie tydperk het hy “Mining City”-pakkies, waarin geld vir rykdom belê word, geadverteer. Luisteraars is na bewering vir ‘n seminaar na sy kantoor in Landdros Maréstraat genooi. By die seminaar is ‘n brosjure met verskillende pakkies glo versprei. Verwysingsnommers is aan goedgelowige persone gegee waarmee geld in ‘n Standardbank-rekening, wat glo aan Altcoin Trader behoort, gedeponeer moes word. Uitbetalings van die pakkies het glo tussen ‘n geskatte bedrag van R6 500 en R253 000 gewissel.
Slagoffers het glo hulle geld belê en is terug na Mogala se kantoor om ‘n e-posprofiel te skep sodat hulle na ses maande toegang tot hulle geld wat belê is, kon verkry. Dit was na bewering toe slagoffers onttrekkings wou maak wat probleme kop uitgesteek en hulle agtergekom het hulle is geblok. By telefoniese navraag het Mogale glo gesê die projek het weens inflasie in duie gestort. Slagoffers het ook gevind Mogale se kantoor was gesluit en hulle kon hom nie weer telefonies bereik nie.
Ledwaba sê gedurende Mei 2022 is 10 sake geregistreer en daar word verwag dat meer sake gerapporteer gaan word.
Die polisie se ondersoek duur voort.
