LIMPOPO. – Collette Bronkhorst (53) is skuldig bevind en gevonnis oor bedrog, nadat sy oor ’n tydperk van vier jaar byna R4,7 miljoen van haar werkgewer verduister het.
Volgens kapt. Wendy Nkabi, woordvoerder van die Valke, het Bronkhorst by Valley’s Best as bestuurder gewerk en was verantwoordelik vir finansiële rekords en boekhouding. Tussen 2010 en 2014 het sy glo die maatskappy se finansiële stelsels gemanipuleer en ongemagtigde betalings na haar eie rekening en dié van haar man se onderneming gemaak. Die totale bedrag wat sy onregmatig verkry het, beloop R4 697 674,88. Sy is in Junie 2015 in Marble Hall in hegtenis geneem ná ’n ondersoek deur die Valke en het later ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
Die saak is op 10 Junie 2026 in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof afgehandel waar sy skuldig gepleit het op 660 aanklagte van bedrog en een aanklag van regsverydeling. Sy is gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf, waarvan ’n deel vir vyf jaar opgeskort is, asook ’n verdere vyf jaar wat ook opgeskort is. Die hof het haar ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.





