NOORDWES. – ‘n Ongeïdentifiseerde vrou, vermoedelik in haar 30’s, is glo Vrydagoggend vroeg in Margaretha Prinsloostraat deur honde doodgebyt. Die voorval is kort voor 06:00 aangemeld toe ‘n man wat op pad was werk toe, die liggaam in die straat ontdek het.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Adéle Myburgh, het die man die polisie ingelig, waarna nooddienste die vrou op die toneel dood verklaar het. Die oorledene het verskeie wonde oor haar liggaam gehad wat ooreenstem met bytmerke van honde. Die omstandighede van die voorval bly onduidelik, aangesien geen ooggetuies tot dusver na vore gekom het nie. Agt honde wat by ‘n naburige woning aangetref is, is deur die DBV in bewaring geneem, van die perseel verwyder en van kant gemaak.
Die vrou is nog nie geïdentifseer nie. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen. Enigiemand met relevante inligting kan kol. JC Scholtz by 082 578 0187 bel.





