GAUTENG. – ’n Vrou, vermoedelik in haar middel 40’s, is Woensdag 7 Oktober uit ’n mensehandel-situasie in die noorde van Pretoria gered nadat sy na bewering drie maande lank agter slot en grendel in ’n kamer aangehou is. Sy is positief getoets vir ses beheerde middels en is na bewering die oggend van haar redding ingespuit.
Volgens Proshield Security het dié diens saam met Bidvest Protea Coin, GAC Security, Proshield Security, die SAPD se Soshanguve-K9-eenheid en operateurs van Unchain Our Children gewerk om die vrou te bevry. Sy is na bewering gedwing om seksuele gunste aan verskeie mans te verleen in ruil vir verblyf en kos. Verdere besonderhede oor die omstandighede van haar beweerde aanhouding en of enige verdagtes in hegtenis geneem is, is nie bekend nie.