VRYSTAAT. – Twee mans, 32 en 34, sal binnekort in die Zastron-landdroshof op ’n aanklag van huisroof verskyn nadat hulle na bewering Sondagaand, kort voor middernag, by ’n vrou se huis in Itumeleng, Zastron, ingebreek het. Haar dogter (15) en 4-jarige seun was saam met haar tuis. Die vrou het een van die verdagtes in die lig van ‘n flitslig herken.
Sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, sê die vrou het wakker geword toe iemand die deur oopforseer. Een indringer was besig om die televisie te vat terwyl die ander naby haar slaapkamer gestaan het. Die lig was nog aan en die vrou sê sy het een van hulle herken. Volgens haar het een ’n stok vasgehou en die ander ’n voorwerp wat soos ’n ysterstaaf of mes gelyk het. Die indringers het glo met die televisie, ’n tweeplaatstoof, bankkaarte, ’n armband, ’n horlosie, ’n selfoon en ’n kragbank gevlug.
Die polisie het die twee verdagtes in hegtenis geneem en die ondersoek duur voort.