WES-KAAP. – ‘n Vrou (41) het Vrydagmiddag daarin geslaag om weg te kom nadat sy na bewering deur ’n man gekonfronteer is terwyl sy op ’n plaas naby Swellendam gedraf het.
AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die voorval het kort ná 12:00 plaasgevind. Die vrou het alarm gemaak, waarna die verdagte van die toneel gevlug het. ’n Soektog na die man is kort daarna van stapel gestuur nadat verskeie rolspelers gemobiliseer is. Hy is uiteindelik langs die N2 vasgekeer en in hegtenis geneem.
Die 27-jarige verdagte is in polisie-aanhouding en sal na verwagting môre, 11 Augustus, in die plaaslike hof verskyn. Die Swellendam-speurders ondersoek die saak as ’n poging tot ontvoering.





