GAUTENG. – Zhang Ying Potgieter (51) het in die Palm Ridge-landdroshof verskyn nadat sy op 19 097 aanklagte, wat verband hou met beweerde onwettige finansiële vloei ter waarde van meer as R500 miljoen, aangekla is.
Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, sê Potgieter is Woensdag in hegtenis geneem en het dieselfde dag in die hof voorgekom waar sy op borg van R70 000 met streng voorwaardes vrygelaat is. Die saak spruit uit ’n ondersoek deur die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdaad. Volgens bewerings het Potgieter deur haar maatskappy, Blue Planet Travel Services (Edms) Bpk, as reisagentskap opgetree en besprekings namens reisigers gemaak deur die eNett-platform te gebruik. Die eNett-stelsel laat betalers toe om geld oor te betaal waarna ’n sogenaamde Virtual Account Number (VAN), ’n outomaties gegenereerde Mastercard-nommer, aan ’n spesifieke reisiger toegeken word vir betalings aan verskaffers.
Ondersoekers beweer die maatskappy het groot bedrae geld van meer as 150 individue en entiteite ontvang wat glo geld oorsee wou oorplaas sonder om die voorgeskrewe wetlike kanale te volg en sonder om die nodige belasting en heffings te betaal. Die geld is na bewering in bankrekeninge inbetaal wat deur die maatskappy besit, beheer of daarmee verbind is.
Potgieter sal weer op 21 April 2026 in die Palm Ridge-landdroshof voorkom.





