OOS-KAAP. – ‘n Vermeende dwelmhandelaar (35) is Maandag omstreeks 19:30, terwyl sy in ‘n ambulans gereis het, deur polisiebeamptes in Bakley-Oos in hegtenis geneem.
Luidens polisiewoordvoerder, kapt. Ursula Roelofse, het die polisie ‘n wenk oor die verdagte se beweerde bedrywighede ontvang. ‘n Operasie is op die R58 in die rigting van Khowa (Elliot) uitgevoer. Die ambulans, wat weekliks pasiënte na Oos-Londen vervoer, is op pad terug gestop. Al die insittendes en hul bagasie is deursoek. Die verdagte is glo in besit van ’n groot hoeveelheid dwelms betrap. Die polisie het op 105 Mandrax-tablette en 12 sakkies tik ter waarde van R16 500 beslag gelê.
Die vroulike verdagte is in hegtenis geneem en het Dinsdag in die Barkley-Oos-landdroshof verskyn.





