VRYSTAAT. – Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Vrystaat het sy kommer uitgespreek oor die skynbare versuim van Vrystaat-regeringsdepartemente om die Kinderwet (No. 38 van 2005) na te kom. Die Kinderwet vereis dat alle gevalle van swanger minderjariges by die owerhede aangemeld word, deur ‘n Vorm 22 vir vermoedelike seksuele aanranding of statutêre verkragting in te dien.
David Masoeu, DA-woordvoerder vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling in die Vrystaatse wetgewer, sê die stygende aantal swangerskappe onder kinders en tieners in die provinsie is kommerwekkend. Volgens Masoeu dui voorlopige reaksies op die DA se amptelike vrae in die wetgewer op ernstige inkonsekwensies en in sommige gevalle ’n totale afwesigheid van verslagdoening. “Hierdie situasie bring dringende vrae na vore oor of die provinsiale departemente, veral gesondheid, onderwys, maatskaplike ontwikkeling en gemeenskapsveiligheid, hul wetlike plig nakom om kinders te beskerm en oortreders te vervolg.”
Die DA eis dat alle regeringssektore – onderwysers, verpleegkundiges, dokters, maatskaplike werkers en polisiebeamptes – saamwerk om kinders en tieners teen voortydige seksuele aktiwiteit te beskerm. Waar jongmense reeds blootgestel is, moet hulle die nodige ondersteuning en opvoeding ontvang om verdere skade te voorkom.
Masoeu voeg by: “Provinsiale departemente moet saamwerk om hierdie krisis aan te spreek en nie afsonderlik te funksioneer nie. Kinders het gesamentlike pogings van elke departement nodig, en dit moet ’n prioriteit wees.”
Die DA sal voortgaan om te verseker dat Vrystaat-regeringsdepartemente gedwing word om aan wetlike vereistes te voldoen om die veiligheid van kinders te beskerm.





