WES-KAAP. – Die owerhede waarsku strandgangers nadat blaasvisse op Muizenbergstrand en Kampsbaaistrand uitgespoel het.
Die Stad Kaapstad sê dié verskynsel kom gereeld voor wanneer daar sterk see- en brandertoestande langs die kus is. Inwoners word gemaan om hul honde liefs aan leibande te hou en seker te maak dat troeteldiere nie met die visse in kontak kom of dit eet nie, aangesien dit skadelik kan wees. Daar word ook gewaarsku dat soortgelyke gevalle op ander dele van die kus kan voorkom en mense versigtig moet bly.
Blaasoppies of ook blaasvisse genoem, leef meesal op die seebodem en kan hulself opblaas met water of lug wanneer hulle bedreig voel. Dit help hulle om roofdiere af te skrik. Wanneer die gevaar verby is, blaas hulle weer af, terug na normaal. Hulle word ook so genoem omdat hulle met ’n straal water sand kan wegblaas om kos te vind wat wegkruip. Hulle het ’n bek met twee tande in elke kaak wat soos ’n papegaai s’n lyk. Die naam Tetraodontidae beteken “vier tande”. Blaasoppies eet baie verskillende soorte kos, van klein seediere tot alge en selfs korale. Hulle is egter gevaarlik omdat hulle ’n sterk gif, tetrodotoksien, in hul liggame het wat dodelik vir mense en ander diere kan wees. Ten spyte daarvan word hulle in sommige lande, soos Japan, as ’n spesiale gereg geëet, maar dit moet baie versigtig voorberei word.
Waarnemings kan by Shark Spotters aangemeld word deur ’n e-pos na info@sharkspotters.org.za te stuur.
Bronne: Stad Kaapstad en Wikipedia





