Mense wat betyds die waarskuwingstekens van moontlike misdaad raaksien, kan dalk net voorkom dat hulle slagoffers word. Volgens Specialised Security Services (SSS) word georganiseerde misdaad dikwels voorafgegaan deur duidelike tekens wat maklik misgekyk word.
Mike Bolhuis van SSS sê waarskuwingstekens sluit onder meer in: onbekende voertuie wat herhaaldelik naby ’n woning, werkplek of skool gesien word, vreemdelinge wat vrae oor ’n persoon se finansies, daaglikse roetine of sekuriteit vra, verdagte sosialemedia-versoeke, bedrieglike oproepe, pogings om aanlyn rekeninge of SIM-kaarte te kompromitteer, asook inmenging met hekke, alarms of kringtelevisiekameras. Ander rooi vlae is werknemers of kontrakteurs wat onnodige inligting versoek, verdagte persone of voertuie wat deur bure opgemerk word, onverwagte aflewerings en klein bedrogpogings wat dikwels ’n groter misdaad voorafgaan.
SSS beveel aan dat mense hierdie waarskuwingstekens ernstig opneem, hul gesinne inlig, veiligheid, ook aanlyn, opskerp, daaglikse roetines verander, hul veiligheidsmaatskappy kontak en enige verdagte optrede by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanmeld. Die organisasie sê bewyse soos CCTV-beeldmateriaal, voertuigregistrasies en skermgrepe moet ook bewaar word.
Volgens SSS maak verskerpte waaksaamheid deur die publiek dit moeiliker vir misdadigers om inligting oor hul slagoffers in te samel, wat die kans verhoog dat hulle hul planne laat vaar voordat ’n misdaad gepleeg word.
Druk hier om meer te lees.





