Walkerbaai is die Overberg se juweel vir walviskyk van die land af en dien as inspirasie vir die logo van dié landgoed in Stanford.

Birkenhead Brouery is in 1997 deur die Hamilton Russell-familie gestig. Twee jaar later, in 1999, het Bill Trew en Alasdair Swart die leisels oorgeneem.Volgens algemene bestuurder, Steyn Jacobs, het hulle in 2002 begin uitbrei en wingerd aangeplant. Teen 2008 het Walker Bay Landgoed vir die eerste keer wyn geproduseer. Tans werk die landgoed daaraan om voortaan as Walkerbaai Landgoed bekend te staan.
Jacobs spog met die landgoed se uithalerwyne en sê hy kan al die wyne aanbeveel. Wat egter vir hom uitstaan, is die Semillon Sauvignon wat in 2025 ’n dubbelgoud-toekenning ontvang het. Die gewilde Pink Pinot Noir 2024 is onlangs bekend gestel.
Daarbenewens bied die restaurant op die perseel ’n verskeidenheid disse. Die catch of the day is beslis op Jacobs se aanbeveling, “aangesien ons naby die see geleë is, is vars vis daagliks beskikbaar.”



Wat bier betref, is die brouery se Honey Blonde en Lager besondere gunstelinge. Beide is lig en vars, ideaal vir warm dae en, soos Jacobs terg, “kan ’n ordentlike dors les.”
Die deli is in 2025 geskep met die doel om plaaslike produsente te ondersteun, en dit het vinnig ’n aanwins vir die landgoed geword.
Walkerbaai Landgoed bied vriendelike diens, ’n asemrowende uitsig, uitstekende wyne en heerlike etes. Terselfdertyd word daar aan ’n behuisingsprojek op die landgoed gewerk, terwyl nuwe ervarings en aktiwiteite ook beplan word. “Hou ons sosiale media dop!” voeg Jacobs by.
“Kom geniet ons gasvryheid, die uitsig en produkte wat oor die jare geskaaf en tot perfeksie ontwikkel is,” moedig Jacobs besoekers aan.

Hy prys verder die span en beskryf hulle as “energiek, dinamies en vol lewe.” Ter afsluiting sê Jacobs: “Ek weet ons doen iets reg wanneer ek sien hoe gaste ons produkte geniet.”
Die landgoed is sewe dae per week oop en is geskik vir kinders sowel as honde.





