As jy beplan om vir die langtermyn te belê, hoef jy jou nie te bekommer oor wat die markte vandag doen nie. Hier is ‘n paar wenke om te oorweeg wanneer jy besluit om in aandele te belê.
Dit gaan oor tyd, nie tydsberekening nie
Daar is die wanbegrip dat belê beteken om die mark die heeltyd te probeer monitor. Dit beteken om te koop wanneer pryse laag is en te verkoop wanneer hulle hoog is. Maar niemand kan met sekerheid voorspel wat die markte gaan doen nie.
Dit is beter om te fokus op hoe lank jy in die mark wil bly, eerder as om te probeer om die beste tyd om te koop of te verkoop, te kies. Die meeste beleggings is bedoel vir ‘n medium tot lang termyn. Jy moet bereid wees om vir ten minste vyf jaar te belê om korttermyn skommelinge te oorleef.
Markte is geneig om met tyd te groei. Daar mag korttermyn skommelinge wees, selfs dalings in waarde. As jy egter ‘n noodfonds het om onvoorsiene koste te dek, sal jy minder geneig wees om jou beleggings tydens ‘n afname te verkoop en sal jy jou beleggings die kans gee om te herstel.
Wees geduldig
Spaarrekeninge word as die veiligste manier om geld te spaar, beskou, maar die rente wat jy verdien, kan minder wees as die inflasiekoers. Dit beteken dat jou geld na ‘n tyd minder werd is.
As jy bereid is om jou beleggings vir ten minste vyf jaar te hou, kan dit beter opbrengste bied as om net in spaarrekeninge te spaar. Alhoewel beleggings risiko’s het, kry jy die kans om jou geld in waarde te laat toeneem.
Moenie al jou eiers in een mandjie sit nie
Wanneer jy belê, sal die waarde van jou belegging op en af beweeg afhangend van wat in die mark gebeur. Dit is normaal.
Om die rit minder rof te maak, kan jy jou geld in verskeie beleggings plaas, eerder as in een. Hierdie metode, bekend as diversifikasie, help om risiko te verminder. Jy hoef nie ‘n beleggingdeskundige te wees om te diversifiseer nie; jy kan dit doen deur in kant en klare portefeuljes te belê wat vir jou gekies is.
Maak dit ‘n gewoonte
Om elke maand ‘n bietjie geld te belê, kan jou help om markskommelinge te balanseer. In maande wanneer die mark laag is, sal jy meer eenhede koop. In maande wanneer die mark hoog is, sal jy minder koop, maar moontlik groter winste hê.
Deur gereeld te belê, verminder jy die risiko om ‘n groot bedrag te belê wanneer pryse hoog is en vatbaar vir korttermyn dalings.
Bron: HSBC





