Vroulike sowel as manlike slagoffers van verkragting moet weet wat om in die eerste ure ná ’n aanval te doen om hul veiligheid, mediese sorg en moontlike bewyse te beskerm.
Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om bewus te wees van hierdie belangrike stappe. Volgens SSS kan vinnige optrede ’n slagoffer se gesondheid beskerm en ook help om belangrike forensiese bewyse te bewaar. Die eerste prioriteit is om na ’n veilige plek te gaan en die polisie of nooddienste so gou moontlik te kontak. Mediese hulp moet so gou moontlik verkry word, selfs wanneer daar geen sigbare beserings is nie.
Gesondheidswerkers kan beserings behandel, infeksies voorkom, vir seksueel oordraagbare infeksies toets en forensiese bewyse versamel. Indien moontlik, moet ’n slagoffer nie voor ’n mediese ondersoek stort, bad, tande borsel, hare was of van klere verander nie. Klere wat tydens die aanval gedra is, moet ook nie gewas word nie. Selfs indien die persoon reeds gewas of van klere verander het, moet die aanval steeds aangemeld word.
Die vinnige aanmelding van ‘n saak by die polisie kan ondersoekers help om getuies, kringtelevisiemateriaal en ander moontlike bewyse op te spoor. Dit is ook belangrik om neer te skryf wat onthou word, soos die tyd en plek, die aanvaller se voorkoms, klere, voertuigbesonderhede en enige gesprekke. Digitale bewyse, waaronder WhatsApp-boodskappe, SMS’e, e-posse, foto’s en sosialemediaboodskappe, moet bewaar word en nie uitgevee word nie.
Die emosionele gevolge van seksuele geweld kan lank voortduur. SSS sê professionele berading, traumaterapie en die ondersteuning van vertroude familie en vriende kan ’n belangrike rol in herstel speel.
Die belangrikste boodskap is dat die slagoffer nooit die skuld vir die aanval dra nie. SSS moedig Suid-Afrikaners aan om seksuele misdade aan te meld, slagoffers sonder oordeel te ondersteun en so gou moontlik mediese hulp te kry.
Druk hier om meer te lees.