Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het verskeie geelvlakwaarskuwings vir Maandag uitgereik, met ontwrigtende reën, moontlike oorstromings, ernstige donderstorms, skadelike winde en baie rowwe see wat dele van die land kan raak. ’n Afsnylaagdrukstelsel ontwikkel wes van die land wat die Wes- en Noord-Kaap kan beïnvloed. Dit bring onder meer donderbuie, swaar reën, moontlike hael, weerlig, ’n beduidende daling in temperature oor hoërliggende gebiede en sterk winde. Die see kan baie rof wees, met golwe van tussen vier en 4,5 meter suid van Tafelbaai.
Vox Weather sê die afsnylaagdrukstelsel sal Maandag reën en donderstorms oor die westelike dele van die land dryf, voordat die stelsel geleidelik ooswaarts oor die sentrale binneland beweeg. Volgens Vox Weather kan die toestande later ook Gauteng en die Hoëveld bereik.
’n Geel vlak 4-waarskuwing vir ontwrigtende reën is vir oostelike Namakwa in die Noord-Kaap en die Sentraal-Karoo-distrik in die Wes-Kaap uitgereik. Oorstromings van paaie en nedersettings en groot ontwrigting van verkeersvloei word verwag.
’n Geel vlak 2-waarskuwing vir ernstige donderstorms geld vir die Nama Khoi- en Kamiesberg-munisipaliteite in die Noord-Kaap, asook die Weskus, Kaapse Wynlande, Overberg en Stad Kaapstad. Die storms kan met oormatige weerlig gepaardgaan en tot plaaslike beserings en kragonderbrekings lei.
’n Verdere geel vlak 2-waarskuwing vir skadelike winde is van krag oor dele van Noordwes, die oostelike dele van die Noord-Kaap, sentraal en westelike dele van die Vrystaat, sentraal en westelike Limpopo en plekke in die noordelike dele van die Oos-Kaap.
Daar is ook ’n geel vlak 2-waarskuwing vir skadelike winde en golwe tussen Port Edward en Richardsbaai en die aangrensende binneland. Dit kan navigasie bemoeilik en tot kortstondige ontwrigting by klein hawens en infrastruktuurskade lei.
Die SAWD verwag verder verspreide buie en donderbuie oor dele van Noordwes en die Vrystaat, terwyl die Noord-Kaap en Wes-Kaap oorwegend bewolk, winderig en koel tot koud sal wees. Die Oos-Kaap kan ook sterk winde en donderstorms ervaar. Langs die kus kan die wind tussen Port Edward en Richardsbaai sterk wees, terwyl ’n sterk tot stormsterk noordoostelike wind langs die Wildekus vanaf die middag moontlik is. Daar word ook gewaarsku dat uiters hoë brandgevaarstoestande in die westelike dele van die Waterberg-distrik en die Blouberg-munisipaliteit in Limpopo verwag kan word.
Motoriste en inwoners in gebiede onder waarskuwings word aangeraai om op hoogte van die jongste weerinligting te bly en versigtig te wees waar swaar reën, sterk winde en donderstorms voorkom.
