VRYSTAAT. – Die soektog na Gert Adams (55), ’n onderwyser van Welkom, duur voort nadat hy op Sondag 4 Oktober vermis geraak het. Die polisie ondersoek ’n saak van beweerde motorkaping en ontvoering nadat Adams glo met geweld deur onbekende verdagtes weggeneem is. Hy het kort voor sy verdwyning op ‘n foon met sy vrou gepraat, maar die oproep is skielik beëindig.
Sers. Palesa Thabana, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, sê Adams is laas op Sondag 4 Oktober in die Dagbreek-gebied in Welkom gesien. Hy het ’n grys Hyundai ix35 bestuur, wat Dinsdag 6 Oktober in Klippan gevind is. Adams was nie in die voertuig nie, maar sy selfoon en ander items was. Die motief vir die beweerde ontvoering is nog nie duidelik nie.
Enigiemand met inligting oor Adams en waar hy hom bevind, kan speursersant Tsie Matlokotsi by 078 758 5658 bel.