WES-KAAP. – Firoz Cachalia, die waarnemende polisieminister, stel vandag (Woensdag) dié provinsie se Safer Festive Season 2026/2027-operasies by die Nyanga-rugbystadion bekend. Sowat 175 nuwe polisievoertuie sal tydens die geleentheid aan die provinsie se ses distrikte oorhandig word om polisiewerk en misdaadvoorkoming gedurende die feestyd te versterk.
Kamogelo Mogotsi, ministeriële woordvoerder, sê genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, gaan na verwagting die bekendstelling bywoon. Geïntegreerde wetstoepassingspanne sal hul vermoë deur simulasies van werklike misdaadsituasies demonstreer. Die plan sluit verskerpte gesamentlike polisie-optrede, groter sigbaarheid van polisiebeamptes en geteikende ingrypings in om inwoners en besoekers veiliger te hou. Gemeenskapslede sal toegang tot uitstallings en mobiele diensleweringseenhede van verskillende staatsdepartemente by die geleentheid hê.