MPUMALANGA. – Willem Kruger (29) se nadoodse ondersoek-saak is volgens brig. Selvy Mohlala na moord verander omdat gemene spel vermoed word.
Mohlala sê die ondersoekspan is nou meer as ooit oortuig dat vuilspel tot die dood van Willem Kruger gelei het.
Gedurende die polisie se ondersoek is gevind Kruger se selfoon en voertuigopsporingstelsel was af. Hy sê voorts die geregtelike doodsondersoek is geopen omdat almal laat glo is Kruger het self in die Vaalrivier ingery. Ondersoek het aan die lig gebring Kruger het nié self in die Vaalrivier ingery nie. Die voertuig wat uit die rivier gehaal is, was in “parkeer”, die handrem was opgetrek en die sleutel was nie in die aansitter nie.
Mohlala sê die polisie is oortuig Kruger en sy voertuig was nie in die Vaalrivier gedurende die die week wat die soektog daar gedoen is nie.
Geen verdere detail van die ondersoek sal in hierdie stadium gedeel word nie, aangesien die polisie-ondersoekers en die NVG saamwerk en nou die saak na moord verander het.
Mohlala sê daar word na klagtes van moontlike regsverydeling en meineed na ‘n sekere persoon van belang gekyk, van wie die identiteit nie tans bekend gemaak kan word nie.
Kruger is op 22 November verlede jaar in sy bakkie se kajuit gevind nadat dit uit die Vaalrivier getrek is. Kruger se liggaam is aan tandheelkundige rekords uitgeken.
Volgens rapportering het Kruger op die 13de November 2022 nadat hy ‘n ramparty by Henbase Lodge bygewoon het, vermis geraak. Daar was glo deur vriende na hom en sy bakkie gesoek. Hy is by die polisie as vermis aagegee.
Sommige het geglo hy het teruggery huis toe in Groblersdal en dat hy moontlik langs die pad gekaap was. Die ondersoek het tot niks gelei nie. Ander het weer geglo hy het na bewering die Vaalrivier ingery, waarna ‘n groot soektog geloods is. Die ondersoek wat op die Vaalrivier gefokus was, het van Maandg 14 November tot Vrydag 18 November geduur. Verskeie tegnologiese metodes is deur die polisie en publiek tydens die deeglike soektog gebruik. Kruger en sy bakkie was egter toe nie in daardie stadium gevind nie.
Toe die voertuig met Kruger se liggaam op 22 November uit die water gesleep is, was dit volgens Mohlala, wat dit as skokkend beskryf, in ‘n area wat wel deeglik deur die polisie en gemeenskap deursoek was.
Mohlala sê die polisie het menige oproepe van die publiek ontvang wat na die status van die ondersoek gevra het. Willem Kruger se saak het groot belangstelling by die publiek ontlok.
Enigiemand met waardevolle inligting van die saak word versoek om met die hoofondersoeker AO Vukile David Nhlapo by 067 336 2121 te kontak.
Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela stel die publiek gerus met die ondersoek wat deur gesoute speurders wat goed toegerus en geskool is gedoen word. Sy sê hierdie ondersoekers sal die verwagte resultate bereik om seker te maak dat geregtigheid sal geskied.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





