NOORDWES. – Daniël Janse van Rensburg (1) van Brits het op 17 April in ‘n swembad geval. Hy veg tans vir sy lewe in die pediatriese intensiewesorgeenheid in Mediclinic, Sandton waar sy liggaam as deel van die behandeling afgekoel word.
Marlize Janse van Rensburg, beskryf Daniël as ‘n lewenslustige en besige seun wat hulle lewens op die mooiste manier verander het. Sy sê elke klein verbetering is ‘n oorwinning, maar sy toestand is ernstig en onvoorspelbaar. Tydens pogings om sy liggaamstemperatuur te stabiliseer, het hy nie gereageer soos dokters gehoop het nie, en hy word tans weer afgekoel. Belangrike breinskanderings is uitgestel totdat hy beter reageer en self sy temperatuur kan reguleer. Intussen word hy deurlopend deur sy mediese span gemonitor.
Daniël se ma doen ‘n beroep op die publiek om hulle te ondersteun hetsy deur gebede of skenkings. Marlize moet naby Daniël bly, maar sy kan nie in die hospitaal by hom oorbly nie. Aangesien die gesin sowat 67 km van die hospitaal af woon en daagliks moet reis, is dit belangrik dat sy dringend naby die hospitaal verblyf moet kry. Daar word geld ingesamel om die gesin met uitgawes van vervoer en ander kostes te help. Enige geld wat oorbly, sal vir Daniël se toekomstige behoeftes aangewend word. Sedert skarebefondsing drie dae gelede begin is, is daar reeds oor die R30 000 vir die kleinding en sy familie ingesamel.
Bron: BackaBuddy





