GAUTENG. – Een persoon is dood nadat ’n brand meer as 40 plakkershutte in die Bagdad- informele nedersetting in Salvokop, Pretoria-Wes, vroeg vanoggend 24 Oktober beskadig het.
Nana Radebe-Kgiba, woordvoerder vir die Stad Tshwane se nooddienste, het bevestig dat een persoon se liggaam tussen die puin gevind is. Die presiese aantal huishoudings wat geraak is, is nog nie bekend nie. Die stad se rampbestuurspan sal die skade bepaal en hulp aan geraakte gesinne verleen.
Die Stad Tshwane betuig sy meegevoel met die oorledene se familie en geliefdes. Inwoners word versoek om weg te bly van die gebied en noodpersoneel toe te laat om hul werk veilig af te handel. Die publiek word ook gemaan om nie onbevestigde inligting oor die voorval te versprei nie. Brande of ander noodgevalle kan by die tolvrye nommer 107 of by 012 358 6300/6400 aangemeld word.
