“My storie is een van genade, genesing en tweede kanse. Nie omdat ek sterk genoeg was nie, maar omdat Jesus vir my lewende water gegee het.”
Mandy-Leigh Samaria van Aswegen (39) som so haar transformasie op terwyl sy haar getuienis in die God se krag in my krisis-ateljee met gemak deel.
Sy is al 18 jaar skoon van dwelms en is vandag ’n geregistreerde berader met ’n diep passie om ander te help.
LEES OOK: Dwelmverslaafde, bosslaper, dief: ‘Sonder God is dít weer my voorland’
Haar pad na sterker dwelms het gekom ná erge trauma. Sy was op 19 verkrag. Kort daarna het sy na ’n sterker dwelm –kokaïene – gegryp om die seer stil te maak. Voor dit was drank en dagga genoeg.
Genesing is vryheid
Sy voel baie sterk daaroor dat almal hulp met genesing ná enige vorm van trauma moet kry. Daarom kies sy vandag juis om trauma-werk te doen en sê: “As ons mense se trauma kan genees, dan is hulle vry.
“Die trauma wás erg, maar hoe ek gereageer het op my trauma was erger. Ek het kokaïene begin gebruik ná my verkragting, en daardie reaksie het nog meer trauma in my lewe veroorsaak.”
So het sy twee motors tydens haar verslawing afgeskryf. Sy onthou ook die nagte wat sy desperaat genoeg was om alleen na gevaarlike plekke te gaan om dwelms te koop by dwelmhandelaars.
Die keerpunt het gekom toe Mandy-Leigh probeer selfdood pleeg het ná ’n kêrel haar gelos het. Haar ouers het in daardie stadium uitgevind dat sy dwelms gebruik. Hulle en het haar met moeite darem kon oortuig om na ’n rehabilitasiesentrum te gaan. “Ek het wel op die vliegtuig op pad na Natal dwelms gebruik en boonop die aand voor my opname die strate van Margate ingevaar op soek na nog ’n fix,” onthou sy.
Sy onthou hoe sy die eerste drie maande gedink het dis ’n “social club”. “Maar in ’n stadium het die pennie gedrop en ek het besef ek moet nóú iets aan my lewe doen,” sê Mandy.
Mandy was uiteindelik nege maande lank by die rehabilitasiesentrum. “Ek het eerstens die Here ontmoet. En tweedens het ek geleer dat verslawing ’n gedragsprobleem is. Dis iets wat ek vir die res van my lewe gaan moet bestuur.”
Sy het besef sy het sedert haar kinderdae konstant na aanvaarding gesmag en onthou hoe sy geld uit haar ma se beursie gesteel het om vir haar maatjies eetgoed by die snoepie te koop om sodoende hulle aanvaarding te “koop”. “Dis uitputtend. Ek het gedink ek moet voorgee sodat mense my sal aanvaar. Gelukkig het ek uiteindelik aanvaarding by Jesus gekry,” sê sy.
Volgens haar is een van die belangrikste dinge om ’n plan op te stel wat help keer dat jy nie terugkeer na dwelms nie, want “failing to plan is planning te fail” verduidelik Mandy.
“Ek lewe volgens ’n plan maar 18 jaar later is dit soos fietsry. Jy het soms nog uitdagings soos potholes in die pad, maar jy woeker daardeur.”
Mandy se plan was waterdig. Sy het destyds ná haar ontslag pille gedrink wat haar baie siek sou maak as sy alkohol sou gebruik. Sy het ook ’n hofaansoek gebring dat haar ouers haar vir die volgende drie jaar wetlik vir rehabilitasie kon laat opneem, sou sy terugval. Die afgelope 15 jaar woon Mandy-Leigh weekliks ’n aanlyn ondersteuningsgroep* vir gerehabiliteerde verslaafdes by. Sy fasiliteer reeds die afgelope 13 jaar dié groep.
Soos die vrou by die put
Mandy-Leigh het onlangs ’n tweede naam vir haarself gegee en by binnelandse sake gaan registreer – Samaria. Dit verwys na die vrou by die put waarvan daar in Johannes 4 geskryf word. Dis die bekende storie van die vrou vir wie Jesus vertel het sy het al vyf mans gehad, maar die een by wie sy tans gewoon het, is nie een van hulle nie.
Volgens dié ma van twee kinders het God vir haar gesê dié was ook haar identiteit. Sy het ook na die aanvaarding van mans gesoek. Maar vandag, met die hulp van God se lewende water, help sy om ander mense se lewe te verander.
LEES OOK: Is ek ‘n alkoholis?
Toe Mandy-Leigh aan die einde van haar verhaal kom lees sy twee kosbare verse van Jesus se woorde aan die vrou by die put: “Johannes 4:13-14: Maar Jesus antwoord haar: ‘Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.’”
En dít, sê Mandy-Leigh, is die verskil tussen net oorleef en werklik vry wees. “Ek moes leer dat genesing nie net daaroor gaan om op te hou met sekere gedrag nie. Dit is ’n diep transformasie. ’n Hernuwing van denke.”
Deur die krag van Jesus se lewende water.
*HEAL Ministries se program is op Bybelse beginsels gegrond. Kontak die organisasie deur ’n e-pos te stuur na enquiries@healministries.com.
- Kontak Mandy-Leigh by info@thewellsamaria.co.za of besoek haar webwerf.
LiG is meer as net ’n tydskrif
God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf – jóú ondersteuning help ons om dit te deel. Hoe meer ondersteuning ons kry, hoe groter kan ons getuienisvoetspoor en impak wees. As jou inspirasievennoot bied ons Christelike inhoud en getuienisse vir elke tree van jou geloofreis.
Jou donasie help ons om meer getuienisse te vertel en dit meer toeganklik te maak. Sodoende kan ons lig bring daar waar donkerte en moedeloosheid is.
Word deel van die getuienis – hier kan jy LiG vandag ondersteun.
Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.