Brekende Nuus
Nuus

11 vas nadat drank van vragmotor geplunder is

Foto: SAPD

LIMPOPO. – Die polisie het Dinsdag 11 verdagtes in Naboomspruit in hegtenis geneem nadat ’n drankvrag met ’n geraamde waarde van R874 500 na bewering van ’n omgeslaande vragmotor op die N1 geplunder is. Die vragmotor het Maandag 16 November omstreeks 03:15 omgeslaan. Volgens die polisie is die hele vrag daarna van die toneel verwyder.

Die polisie sê beamptes van die Naboomspruit-polisie en Modimolle se eenheid vir openbare orde het ’n wenk opgevolg en die verdagtes, sewe mans en vier vroue tussen 21 en 56 jaar oud, in die woongebied opgespoor. Beamptes het op drank met ’n geraamde straatwaarde van R31 870 beslag gelê. Tien verdagtes is in hegtenis geneem weens die besit van vermoedelik gesteelde goedere en een weens die ontvangs van gesteelde goedere. Hulle sou na verwagting vandag ( Donderdag) in die Mookgophong-landdroshof verskyn op aanklagte wat met die diefstal, besit en ontvangs van die goedere verband hou.

Genl.maj. Lesiba Mashilo, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die plundering van ongelukstonele veroordeel. Hy het inwoners gevra om slagoffers by te staan en voorvalle by die polisie aan te meld.