12 skoolleerders en bestuurder sterf in ongeluk

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – Altesaam elf leerders van Laerskool Rocklands en een leerder van Laerskool Blyvooruitsig in Carletonville, asook die bestuurder van hulle privaat skoolvervoer, het vanoggend omstreeks 06:45 in ‘n ongeluk gesterf.

Steve Mabona, woordvoerder vir onderwys in die provinsie, sê nog sewe leerders is vir dringende mediese behandeling na ‘n mediese fasiliteit gehaas. Die tragiese en noodlottige ongeluk het in die Kokosi-Wedela-area in Merofong gebeur. Die minibus waarin die leerders vervoer is, is glo van agter deur ‘n bakkie getref wat veroorsaak het dat dit gerol het. Mabona sê die ongeluk word deur die polisie ondersoek.

Mabona sê Matome Chiloane, die LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning, is diep bedroef oor die insident.

“Ek is diep hartseer oor hierdie tragiese gebeurtenis. Die verlies van ons kinders is ‘n verwoestende slag vir ons gemeenskap, en ons gedagtes en gebede is by die families van die oorlede en beseerde leerders. Ons betuig ons innige meegevoel aan die families, vriende en beide skole se hele gemeenskap gedurende hierdie ongelooflike moeilike tyd. Ons wens ook alle beseerde leerders ‘n spoedige herstel toe,” sê Chiloane, wat vandag die ongelukstoneel en beide skole sal besoek.

Die departement het reeds ‘n psigo-sosiale ondersteuningspan uitgestuur om die skool en geraakte families te ondersteun. Beradingsdienste word ook aan leerders en onderwysers beskikbaar gestel.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App