GAUTENG. – 15 leerlinge van verskeie skole is Maandagoggend beseer in ‘n ongeluk met privaat skoliervervoer op die pad tussen Pretoria-Wes en Hartbeespoort. Die leerlinge wat beseer is, is aan Laerskool Danville, Hoërskool Lotus Gardens, Laerskool Brindhaven, Laerskool S.K. Moseneke, Hoërskool Pretoria-Wes en Laerskool Bagale verbonde.
Steve Mabona, woordvoerder vir die Gauteng-onderwysdepartement, sê die LUR, Matome Chiloane, van dié departement het sy kommer oor die ongeluk uitgespreek. Die beseerde leerlinge is vir mediese ondersoeke en behandeling na verskeie plaaslike hospitale geneem. Die departement het bevestig dat geen sterftes aangemeld is nie.
Chiloane het gesê die departement is diep bekommerd oor die voorval wat leerlinge se lewens in gevaar gestel het. Die toestand van die beseerdes word fyn dopgehou terwyl owerhede die presiese oorsaak van die ongeluk ondersoek.





