Brekende Nuus
Nuus

17 nooddienswerkers geskors oor onbetaalde oortyd – DA

Foto: DA GPL

GAUTENG. – 17 werknemers van Gauteng se noodmediese dienste (NMD) is volgens die DA vir ’n maand geskors nadat hulle na bewering geweier het om langer as hul kontraktuele 160 werksure per maand te werk sonder oortydbetaling.

Die werknemers, verbonde aan die Selby-, Hillbrow- en Mofolo-basisse, beweer dat hul skofte hulle gereeld tot tussen 20 en 25 ekstra ure per maand laat werk het, terwyl die provinsiale departement van gesondheid glo nie meer oortyd betaal nie. Volgens die DA is salarisaftrekkings van tot R4 000 ook van sommige van die werknemers gemaak vir sogenaamde “onvoltooide skofte.” 

Madeleine Hicklin, DA-Gauteng-woordvoerder oor gesondheid, sê die werknemers het aangedui dat hulle nie noodreaksies of pasiëntesorg geweier het nie, maar slegs ekstra ure sonder betaling geweier het. Volgens haar het die departement werknemers glo gewaarsku dat hulle ontslaan kan word en by die raad vir gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) aangemeld kan word vir beweerde “staking”. Drie werknemers wat deur dissiplinêre verhore in die gesig gestaar word op onder meer aanklagte van growwe insubordinasie en pligsversuim, het die DA om hulp genader.

Die DA doen ’n beroep op Faith Mazibuko, Gautengse LUR vir gesondheid, om die geskil te ondersoek en vas te stel of werknemers buite hul kontraktuele ure op ‘n werksrooster geplaas word sonder toepaslike vergoeding. Die party waarsku dat die geskil, indien dit nie opgelos word nie, die kapasiteit van nooddienste en die lewering van noodsorg kan raak.